'n Nuwe wekroep tot 'n filosofiese Afrikaans buite die openbare universiteite
Die artikel betwis die legitimerende verduidelikings wat plaaslik en internasionaal vir verengelsing gegee word, naamlik dat daardeur 'n meer praktiese en inklusiewe wyse van kommunikasie verwesenlik word in 'n gesamentlike opheffing van die beskawing. Ek wys daarop dat sulke edele verduidelikings uit 'n homogeniserende drif voortspruit, met 'n Faustiese ondertoon, dit wil sê dat prysgawe van die siel as voorwaarde vir opname in die nuwe bestel gestel word. Hierdie Faustiese prysgawe word aangedryf deur wat ek noem die priesterskap van selfveragting, so genoem vanweë 'n soort masochistiese selfmarteling wat enersyds die voorwaarde vir relevansie geword het, en waarbinne andersyds pyniging die voorwaarde vir beloning is. As alternatief hiervoor doen ek 'n oproep tot 'n filosofiese omgang in Afrikaans, dit wil sê n verkenning van die algemene waarin die besondere nie ingeperk of uitgewis word nie, maar wat selfontdekking én uitreiking na die geheel tot gevolg het. Dit behels nie 'n verskraling van die algemene nie, maar 'n verryking daarvan deur nuwe nuanses daaraan te verleen. Onontbeer-lik vir die verryking is ver-taal-ing, waarsonder taal armer en eensydig word. Taal, anders as getal, is veelkantig en veelduidig. Die weg van taal word daarom moeisaam bewandel in erkenning, waarbinne tegelyk selfkennis (nie verwaandheid nie) en oopstelling (wat nie met homogenisering verwar moet word nie) vereis word.
Main Author: | |
---|---|
Format: | Digital revista |
Language: | Afrikaans |
Published: |
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
2018
|
Online Access: | http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512018000300010 |
Tags: |
Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!
|