Etiese sensitiwiteit van praktiserende oudioloë

TEORETIESE RAAMWERK: ʼn Begrip van die kliënt, sy/haar behoeftes, emosies en omstandighede vorm die basis van ʼn doeltreffende terapeutiese verhouding. Diensuitnemendheid en etiese sensitiwiteit vorm saam met hierdie holistiese kliënt-terapeut-benadering die boustene vir doeltreffende dienslewering. Die Meetinstrument vir Etiese Sensitiwiteit in die Terapeutiese Wetenskappe (MIEST) is die eerste multidissiplinêre meetinstrument beskikbaar om etiese sensitiwiteit van oudioloë en ander terapeute te evalueer. In ʼn eeu waar terapeute daagliks gekonfronteer word met etiese besluitneming is dit belangrik om die vlak van ontwikkeling van terapeute in verskillende fases van etiese besluitneming te bepaal. Die MIEST kan in die toekoms as rigtingwyser vir werkswinkels en professionele ontwikkelingsprogramme gebruik word. Etiese sensitiwiteit is die eerste stap in die raamwerk van etiese optrede en word daarom as die vertrekpunt vir hierdie navorsing beskou. DOEL: Om die etiese sensitiwiteit van praktiserende oudioloë te ondersoek met verwysing na spesifieke beginsels en vaardighede. METODIEK: ʼn Kwantitatiewe navorsingsontwerp is gevolg met die gebruik van ʼn reeds ontwikkelde meetinstrument, naamlik die MIEST. Vyftig deelnemers het die meetinstrument voltooi. Data-insameling het elektronies plaasgevind. Die data is kwantitatief ontleed deur middel van beskrywende sowel as parametriese en inferensiële statistiek. BEVINDINGS: Die gemiddelde prestasie van praktiserende oudioloë was 65%, wat hul in die "ontwikkelende" fase van etiese sensitiwiteit plaas. Die hoogste vlak van etiese sensitiwiteit was in ooreenstemming met die beginsel van geregtigheid asook die vaardigheid, naamlik emosionele uitdrukking. ʼn Behoefte is geïdentifiseer om oudioloë se etiese sensitiwiteit spesifiek ten opsigte van nie-kwaadwilligheid, beheer oor sosiale vooroordeel en die vertolking van situasies te verhoog.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Naudé,Alida, Bornman,Juan
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000300002
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!