'n Ortografiese brug tussen Japannees en Afrikaans - die keuse van 'n romeinse transliterasiesisteem

By die saamstel van vertalende woordeboeke tussen tale wat tipologies (en genealogies) verwant is, het die leksikograaf reeds te doen met 'n meerdoelige gebruiksinstrument wat, benewens semantiese ekwivalensie en 'n verskeidenheid ander linguistiese faktore, die pragmatiese behoeftes van die waarskynlike gebruikers in ag moet neem. In die geval van twee tale wat verskillende ortografieë gebruik, word daar 'n verdere dimensie toegevoeg, deurdat toegang tot die klanke en betekenisse van die vertaalekwivalent afgeskerm word deur n sisteem van simbole wat eers baasgeraak moet word. Om die "vreemde" taal meer toeganklik te maak, word 'n sisteem van transliterasie van die teikentaal in die ortografie van die bekende taal dan gebruik, sodat die noodsaaklikheid om die inheemse ortografie te bemeester, voorlopig uitgestel word. In hierdie artikel word die benutting van die romeinse ortografie in 'n Afrikaans-Japannese woordeboek onder die loep geneem, waardeur ook pragmatiese en linguistiese aspekte 'n rol speel. As agtergrond word 'n kort oorsig gegee van die inheemse skryfwyses van Japannees, te wete kanji,¹ hiragana en katakana, asook die historiese aanloop tot die ontwikkeling van 'n romeinse transliterasiestelsel (roomaji), waarvan daar verskillende variante bestaan. Die Hepburn-sisteem, een van die roomaji-variante, is afgestem op, en word verkies deur, buitelandse leerders van Japannees, deurdat dit spesifiek leiding gee op die vlak van die uitspraak. Maar ook die Hepburn-sisteem word aangepas by die behoeftes van verskillende gebruikersgroepe, ten einde die interpretasie van die teks fonologies en grammatikaal vir die leser te vergemaklik. Op grond van tipologiese, grammatikale, en veral fonologiese verskille tussen Japannees en Afrikaans is daar sekere keuses gemaak ten opsigte van spelling (veral by lang vokale) en skryfwyse (bv. die gebruik van koppeltekens), wat deur 'n aantal gebruiksvoorbeelde gemotiveer word. Wat die prosodiese verskille betref, het die keuse, op grond van leesbaarheidsoorwegings, geval op die gebruik van klankgrepe van uitspraak deur 'n moedertaalspreker wat by wyse van 'n hiperskakel vir elke woord wat deur n lemma voorgestel word, gehoor kan word.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Kützé,Ernst
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2016
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512016000400010
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!