Die problematiek en gesamentlike beheer van immigrante binne die Europese Unie: lesse vir Suid-Afrika

Internasionale migrasie is 'n uitvloeisel van globalisering en deel van 'n transnasionale tendens wat gemeenskappe, kulturele interaksie sowel as sosio-ekonomiese regeerprosesse in ontwikkelde en ontwikkelende state permanent beïnvloed (Harris 2009:4). Volgens Solomon (1996:1) is een uit elke honderd en veertien mense wêreldwyd 'n uitgewekene. Die redes vir veral onwettige immigrasie word volgens Angenendt (2008:1) universeel verbind met pogings van mense om aan politieke geweld en onderdrukking te ontkom. 'n Gebrek aan ekonomiese vooruitsigte in die land van herkoms is dikwels ook 'n rede vir vertrek uit die eie staat van herkoms. Binne die EU is die grootste groepe onwettige immigrante en niegevestigde minderhede byvoorbeeld afkomstig uit Turkye, Marokko, Albanië, Algerië en Serwië (A common immigration policy 2008:4). In die Verenigde State van Amerika (VSA) is onwettige immigrante en niegevestigde minderhede afkomstig uit Meksiko, Kuba en ander Suid-Amerikaanse state. In Suid-Afrika is hulle veral afkomstig uit Zimbabwe, Mosambiek en Swaziland (Whitman 2000:19). Migrasie is 'n multidimensionele en komplekse konsep wat verband hou met 'n verskeidenheid interpretasies en betekenisse. Vir die doeleindes van hierdie navorsing word die omvang en hantering van die immigrasieproblematiek binne Suid-Afrika en die Europese Unie (met 'n kort verwysing na Nederland as 'n gevallestudie) beperk tot 'n bespreking van die problematiek van onwettige immigrasie en die daarmee verbandhoudende gebrekkige integrasie van minderhede in die "doelstaat". Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs inisiatiewe van stapel gestuur ten einde onwettige immigrasie, veral uit ander Afrikastate, beter te beheer en selfs te ontmoedig. In breë trekke behels hierdie inisiatiewe die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) op die grense, die verskerping van binnelandse prosesseringsmaatreëls en deporteringsprosedures. In hierdie artikel word 'n vergelyking getref tussen die immigrasie- en die niegevestigde minderheidsproblematiek van die EU en die wyse waarop veral onwettige immigrasie tans in Suid-Afrika hanteer word. Die primêre aanname is dat daar steeds leemtes in die Suid-Afrikaanse hanteringswyse is, en dat daar lesse te leer is uit die EU-ondervinding. Dit is juis hierdie lesse wat in die artikel uitgelig word. Eerstens word kernagtig ingegaan op die impak van morele verpligtinge as belangrike rasionaal onderliggend aan die wyse waarop die onwettige immigrasie en die niegevestigede minderheidsproblematiek tans in Suid-Afrika hanteer word. Hier is die fokus spesifiek op misdaad, werkloosheid en vreemdelingehaat as uitvloeisels van onwettige immigrasie. Die fokus word tweedens ter vergelyking vernou tot die persepsie en wyse waarop die immigrasie en niegevestigde minderheidsproblematiek binne die EU hanteer en ervaar word. In hierdie verband word die klem spesifiek op die persepsie van nasionale eiebelang van individuele EU-lidstate as rasionaal vir die hantering van die niegevestigde minderheidsproblematiek binne die EU gelê. Hierdie vergelyking dien as riglyn vir die identifisering van uitdagings wat deur die Suid-Afrikaanse owerhede oorkom moet word. Dit is dan moontlik om aanbevelings te maak vir relevante beleidsformulering en die implementering daarvan in Suid-Afrika.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: van der Elst,Herman J
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2011
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512011000200003
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!