Die effek van 'n troeteldier-ondersteunde leesprogram op woordherkenningsvaardighede van graad 3-kinders
Die doel van die huidige studie was om die effek van 'n troeteldier-ondersteunde leesprogram (TOL) op die woordherkenningsvaardighede van graad 3-kinders te bepaal. Al die kinders wat met behulp van die ESSI Leestoets as nievaardige lesers (N=102) geïdentifiseer is, is ewekansig toegewys aan drie eksperimentele groepe en een kontrolegroep. Een maal per week vir 10 weke lank het die Leeshondgroep (n=27) vir 'n leeshond in die teenwoordigheid van 'n Pets as Therapy-vrywilliger gelees, die Volwassenegroep (n=24) het slegs vir 'n volwassene gelees terwyl die Teddiebeergroep (n=26) vir 'n teddiebeer in die teenwoordigheid van 'n volwassene gelees het. Die Kontrolegroep (n=25) het voortgegaan met hul normale skoolaktiwiteite. Die kinders in die drie eksperimentele groepe het individueel vir ongeveer 20 minute gelees uit graad 1-, 2- en 3-vlak boekies. Data-insameling het plaasgevind voor die aanvang van die leesprogram (Tyd 1), direk ná voltooiing van die leesprogram (Tyd 2) en met 'n opvolgmeting agt weke later (Tyd 3). Die resultate het getoon dat die kinders in die Leeshondgroep op 'n beduidend hoër graadvlak gelees het tydens Tyd 2 en Tyd 3 as die ander drie groepe.
Main Authors: | , , |
---|---|
Format: | Digital revista |
Language: | Afrikaans |
Published: |
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
2015
|
Online Access: | http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512015000200008 |
Tags: |
Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!
|